Preek /Boodskap oor: Relax

Hoof gedagte:

Almal van ons sal besef dat alhoewel ons in ‘n wêreld leef met baie skedules

en baie dinge wat ons besig hou, ons altyd tyd moet maak om by God stil te raak. Wanneer ons by Sy voete gaan sit, sal ons krag ontvang en ‘n bonatuurlike vrede ervaar wat die wêreld nie vir ons kan gee nie.

Inleiding:

Het jy al iemand gesien wat rondhardloop en die wind probeer vang?

… of dalk lyk dit soos net ‘n normale dag in die tyd waarin ons leef.

Om die waarheid te sê is ons lewe wat ons vandag leef nie veel anders as in die tyd toe die Bybel geskryf is nie.

Ja ons het nou selfone en rekenaars en motors en al die wonderlike dinge, maar die probleem het homself net in ‘n moderne jassie vermom.

Ons lees in die eerste twee hoofstukke van Prediker hoe die skrywer die lewe beskryf as ‘n gejaag na wind.

By vorige boodkap aansluit:

Ek het in my vorige boodskap getitel “hoe om te lewe” gedeel oor o.a. besig wees en moeg wees aan die einde van die jaar en dat daar ’n beter manier is van lewe. Ons het gesels oor:

  • Besige lewe en ’n beter manier van lewe… Jesus se manier.
  • Ons het gekyk na ’n (wêreldse) weg wat reg lyk maar na die dood lei.
  • Ons het gepraat oor jukke wat ons terug hou en bind en dat ons aan Jesus verbind moet wees en bly.
  • Ons het gekyk na die skrifgedeelte in: Matt 11:28-30

28Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.

… ek wil nog ’n rukkie hier bly en dieper delf. Hoe moet ek leef – Deel 2

*Ek wil met julle praat oor… Kom na my toe:

Storie van Martha:

Ons lees van ‘n vrou in Lukas 10 wat so hard probeer het om “die pot aan die kook te hou.” Haar naam was Martha en in gaar geval was dit letterlik waarmee sy besig was. Sien, Jesus en Sy vriende was genooi vir ete by haar huis. Wanneer ons die verhaal lees kan ons seker wees van een ding. Martha het presies geweet wie Jesus is. Sy het besef Hy is die Messias, die Verlosser en die ware Seun van God.

Dit is juis daarom dat sy soos ‘n werfhoender (almal het deesdae hoenders) rond geskrop het om haar huis en die ete perfek te hê vir haar eregas.

Ek is seker sy was baie op haar senuwees toe Jesus daar aangekom het. Sy het hulle met ope arms verwelkom, hulle na die skoon geskropte sitkamer geneem en toe haarself verskoon om te kyk of die kos gereed is.

Soos wat sy heen en weer van die kombuis na die etenstafel toe beweeg besef sy dat sy besig is om al die werk alleen te doen. Waar is haar sussie Maria?

In die sitkamer aangekom sit Maria al die tyd by Jesus se voete en luister na alles wat Hy sê.

Ons kan ons net indink hoe Martha moes gevoel het. Hier is sy besig om alles gereed te kry vir hulle eregas en haar sussie help nie eers nie! Marta het sekerlik vir ‘n hele ruk Jesus se aandag probeer trek oor hoe hard sy werk terwyl haar sussie niks doen nie.

Ons kan sommer die diep sug, die kreune en die meubels wat geskuif word hoor soos wat sy probeer wys hoe hard sy werk.

Toe Jesus nie aandag aan haar harde werk gee nie, kon Martha dit nie meer vat nie. Here, lyk dit darem nie vir U onregverdig dat my suster net hier sit terwyl ek al die werk doen nie? Sê sy moet my kom help.” (Klink bietjie na iets wat my kinders sou sê)

Jesus se vriendelike oë het diep in Martha se bekommerde moeë oë ingekyk. Marta, Marta, jy kwel jou tog oor so baie dinge! Daar is regtig net een ding wat nodig is om oor besorg te wees. Maria het dit ontdek en Ek gaan dit nie van haar af wegneem niehet Jesus vriendelik gesê.

Ons lees nie wat verder in hierdie verhaal gebeur nie, maar ek wil my graag voorstel dat Jesus vir Martha sê: Martha Kom na my toe… en hoe Martha haar voorskoot laat val en stadig stap na Jesus toe en by sy voete gaan sit…

Ons lees later in Johannes 11 hoe Jesus ‘n tweede keer na die familie toe gaan.

Hierdie keer was dit ‘n swaar besoek omdat Martha en Maria se broer Lazarus baie siek was.

Iets wat baie opvallend is, is die woorde in Johannes 11:5

Jesus was lief vir Marta, haar suster en vir Lasarus.

  • Martha, die een wat haar bekommer, die werfhoender die een wat rondhardloop se naam word eerste genoem en Maria s’n glad nie.

Miskien is dit spesifiek vanoggend vir jou, so aangeteken in die Bybel. (Vir die  van ons wat soos werfhoenderjies naarstiglik aan die skrop is).

Een ding is seker van Martha se verhaal.

  • Jesus bly vir haar en vir ons lief.

Hy sê vanoggend vir jou soos vir Martha: Kom na my toeRelax (ontspan) en wees stil (raak rustig… bly bietjie stil) en kom sit hier by my voete…

*Ek wil met julle praat oor die… Storm in jou kop:

Het julle al agtergekom, party mense praat verskriklik baie… Ek het altyd gedink ek is ’n “stil en teruggetrokke outjie” maar ek hoor die Here druk dit op my hart, dat ek te veel praat. In my kop.

Miskien is jou lippe stil maar in jou kop woel daar konstant ’n storm van gedagtes.

Miskien praat Jesus vanoggend met die storm in jou kop?

Mat 8:23-26 (DB)

23Uiteindelik kom Jesus by die boot. Hy en sy getrouste volgelinge klim toe in en vaar na die ander kant toe. 24Op pad oorkant toe het daar skielik n verskriklike storm op die meer losgebars. Die golwe was so hoog dat n mens nie eens meer die boot behoorlik kon sien nie.

My weergawe:

toe het daar skielik n verskriklike storm in hulle gedagtes losgebars. Die gedagtes was so hopeloos en vreesbevange dat hulle nie eens meer vir Jesus wat saam met hulle was kon sien nie.

Tog het Jesus gelê en slaap. Hy het mos die vorige nag deurgewerk. 25Sy dissipels kon dit later nie meer hou nie en maak Hom wakker: Here, help! Ons is besig om onder te gaan!

26Het julle geen vertroue in My nie?vra Jesus. My, as julle regtig in My glo, waarvoor is julle dan so bang? Dink julle julle sal ooit kan ondergaan as Ek by julle is?Hy staan toe op en beveel die wind met gesag in sy stem om te gaan lê en die see om stil te word. Skielik, asof iemand n kombers van kalmte oor die meer getrek het, was alles stil.

In Psalm 46:11 vind ons die bekende vers: Wees stil en weet, Ek is die Heer.

Een van die kommentare vertaal dit met: “Relax, and know that I am God” wat ooreenkom met die Hebreeuse רָפָה wat letterlik beteken “hang limp“.

Die grootste probleem van vandag se gejaagde lewe is dat ons soveel dinge het om te doen en soveel verantwoordelikhede en verwagtings op ons skouers laat rus, sonder om stil te word en te besef dat Jesus saam met jou die pad stap.

partymaal sê die Here:

  • Los dit by My

Ander kere sê Hy:

  • Ek is met jou en gee jou krag om deur dit dit gaan

*Ek wil met julle praat oor… Relax soos Liefie.

Die storie van 3 honde:

Seun niks. Po krap met voet. Liefie bo-op, tussen jou en foon, lê “limp”. (volle vertroue en geen bekommernis in die wêreld)

*Ek wil met julle praat oor… Stiltetyd in ’n boks:

Ons raak soms geneig om selfs ons stiltetyd in ‘n boks te plaas.

Wees teenwoordig in die oomblik. Wees in die oomblik en hoor wat HG sê. Ons dink heeltyd aan wat nounou moet gebeur.

Om stil te word moenie net n aktiwiteit wees in ons besige skedule nie. Dit moet die fondasie wees waarop ons skedules rus.

*Ek wil met julle praat oor… Fokus op die nou:

[Lees] Ons fokus op die volgende ding en ons mis die nou-oomblikke.

SPAR betaal-tou is te lank en ek soek die korter een want ek is haastig oppad en dink alreeds vooruit aan die volgende 3 dinge wat moet gebeur.

Relax en staan in die lang tou en vra Heilige Gees wat Hy nou vir jou wil sê.

Relax en luister’n bietjie… miskien wil Hy hê dat jy die persoon voor jou moet komlimenteer of bemoedig.

Maar ons is haastig en ons mis Sy stem en ons mis die “nou-geleentheid”

NB: As satan ons nie kan laat sondig nie is sy strategie om ons besig te hou.

Ons mis Jesus en HG in die nou.

Slot:

Dit voel of die pas net vinniger word aan die einde van die jaar i.p.v. stadiger.

Daar is ’n 110 goeters (waarvan 109, onverwagse onbeplande dinge is) wat nog moet gebeur voor ons Donderdag sluit.

Hoe doen ons dit? Hoe beplan ons vir die onverwagte? Ons kan nie… maar ons kan reg wees om die onbeplande te kan hanteer deur na Jesus toe te gaan en tyd by Sy voete te spandeer.

Hoe lyk jou oë vanoggend? Lyk dit bekommerd en moeg soos Martha?

Is jy ’n werfhoender of ’n Kainos-eend? (eend storie).

Skrop en skarrel jy, of kom soek jy die aandag en dalk ’n stukkie brood van die lewe by die Koning?

NB: Die Koning bo alle Konings nooi jou uit om by Hom te kom stil wees.

Die einde van die jaar het aangebreek. Meeste van ons gaan in ’n bietjie van ’n ontspan… ’n vakansie… ‘n “RELAX” tydperk in.

Ons wil almal bietjie asem skep.

[Lees] Gebruik hierdie tyd… Relax en…

  • word stil voor jou Skepper.
  • Hoor Sy stem.
  • Haal diep asem.
  • Kry krag uit Sy woord en Sy teenwoordigheid.
  • Fokus op die “Nou” oomblikke saam met HG.

En dan in 2023… Volg die pad wat Hy vir jou bestem het en beleef hoe jou daaglikse aktiwiteite verander in ‘n bediening en ‘n lewenswandel saam met Jesus deur Heilige Gees.

Die vrug van die Gees is nie haastig nie. Die vrug van die Gees is geduldig.

Ons wandel met Jesus. Ons hardloop nie saam met Hom nie.

Partymaal sê Hy:

  • Raak rustig, raak stil, relax.
  • Kom sit by my voete.

Ek sluit af met ’n R.E.L.A.X. Akroniem:

Realize you are distracted (from the best thing)

Enjoy the moment (with Holy Spirit)

Limit your labour (take a breath)

Adjust your focus (sit at the feet of Jesus) Worship = shifting our focus from us towards Him

eXchange your pressures for God’s peace