Preek/ Boodskap oor: Die Besnydenis en die Doop van ‘n Gelowige

Vanoggend het ons na ‘n lang tyd weer ‘n doopdiens hier by LCF. Dis altyd ‘n baie spesiale oomblik saam die gelowiges wat gedoop word.

Om vennoot te word by LCF, moet jy onder andere die 3 week Kunect program voltooi waartydens ons in een van die sessies oor die doop gesels om sodoende vir nuwe vennote te kommunikeer waar LCF staan ten opsigte van die doop en die Bybel.

Om agtergrond te kry van my gehoor en hulle begrip van die doop, vra ek altyd vir die gehoor wat hulle kerk agtergrond is. Gewoonlik kry ek:

  • Minderheid is pinkster, charismaties. (40%)
  • Meerderheid is vanuit een van die tradisionele susterskerke (NG, Hervormd, Gereformeerd) (60%)

Omdat ek belydenis van geloof in ‘n Gereformeerde kerk afgelê het, voel ek kan ek altyd met my gehoor assosieer rakende die onderwerp van die doop.

Meeste van ons vennote (pinkster of susterskerk agtergrond), is as baba gedoop waarvan sommige later as volwassene weer gedoop is.

Ek het al in die verlede ‘n boodskap gebring rakende die doop en ek wil nie vanoggend die inhoud daarvan herhaal nie. Gaan soek gerus op ons Youtube kanaal vir die boodskap getiteld “Hoekom doop ons?”

Ek wil vanoggend die onderwerp van die besnydenis en die doop hanteer (iets nog nie voorheen gedoen nie).

Want die vraag wat ons uit die Bybel moet kry is: Moet babas gedoop word of moet gelowiges gedoop word?

Punt 1: Is die doop ‘n plaasvervanger vir die OT besnydenis?

Besnydenis dateer terug na Abraham toe en die verbond wat God met hom gemaak het.

ROMEINE 4:8-13 (Afr53) ‘Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie. Hierdie saligspreking dan, sien dit op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Want ons sê: Aan Abraham is die geloof tot geregtigheid gereken. Hoe is dit dan toegereken — toe hy besnede of onbesnede was? Nie as besnedene nie, maar as onbesnedene. En hy het die teken van die besnydenis ontvang as ‘n seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie; dat hy die vader sou wees van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat ook aan hulle die geregtigheid toegereken sou word; en ook ‘n vader van die besnydenis vir die wat nie alleen uit die besnydenis is nie, maar ook wandel in die voetstappe van die geloof van ons vader Abraham toe hy onbesnede was. Want die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees, het Abraham of sy nageslag nie deur die wet verkry nie, maar deur die geregtigheid van die geloof. ‘

  • Abraham se geregtigheid het gekom a.g.v. sy geloof / vertroue in God.
  • Besnydenis was die teken van die verbond wat gemaak is a.g.v. Abraham se geloof.
  • Geloof is wat saak maak. Nie of jy besny of nie besny is nie.
  • Almal wat glo het Abraham as Vader en al is hulle onbesnede, ontvang hulle geregtigheid deur hul geloof.

Die seuns van die nageslag het egter op die 8ste dag van hul bestaan as baba hierdie teken ontvang.

  • Dus in die OT verbond was geboorte in die regte bloedlyn belangrik, en besnydenis was die teken dat jy deur geboorte deel was van daardie verbond.
  • Dus ook die aanname dat kinders van gelowige huisgesinne vandag op dieselfde manier deel raak van die nuwe verbond en die doop die teken is wat dit bevestig.

Baie Bybel skrifte praat van doop (geen skrif spesifiek oor baba doop nie), baie skrifte praat oor besnydenis (baie spesifiek oor die ouderdom van die baba). Slegs 1 praat van albei:

KOLOSSENSE 2:9-12 (NLV) – Omdat julle een is met Christus is julle ook besny, nie met ‘n besnydenis deur mense nie, maar met die besnydenis van Christus. Hierdie besnydenis bestaan uit die wegneem van julle sondige geaardheid. Toe julle gedoop is, is julle saam met Christus begrawe. Omdat julle een is met Hom, is julle ook saam met Hom opgewek. Julle geloof in die krag van God het dit moontlik gemaak – hierdie selfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het. ‘

  • Hierdie is die hoof skrifgedeelte waarop die argument van kinderdoop gebou is.
  • Die skrifgedeelte praat wel niks van ouderdomme nie en sê nie spesifiek dat doop ‘n vervanging is van nou af vir die besnydenis nie. Dit bring net die 2 konsepte bymekaar in 1 vers.
  • Alhoewel baie ander NT skrifte voorbeelde is van mense wat tot geloof in Jesus gekom het en toe gedoop is, word hierdie skrif uitgesonder as die rede doop die besnydenis vervang en dus kinders gedoop moet word.
  • Dit sê egter nie dit so in spesifieke woorde nie. “Van nou af hoef julle nie meer kinders te besny nie, doop hulle” – dis nie wat dit sê nie. (wat sê dit wel?)

“besnydenis wat nie met hande verrig word nie” / “die besnydenis van Christus” – verwys nie ‘n fisiese besnydenis, maar ‘n geestelike besnydenis –> die besnydenis van ons hart.

  • Deu 30:5-8; Deu 10:15-17; Jer 4:1-4 – Israel kon nie net staatmaak op die liggaamlike besnydenis nie – die besnydenis van hulle hart was belangrik.
  • Die kern skrif sê vir ons dat ons hierdie besnydenis wat nie met hande gemaak is nie, ontvang deur in Christus Jesus te wees. Ons harte word besny.
  • “Die verwydering van die sondige geaardheid” – dis wat aan die hart besny word
  • Dan die simboliek van die doop wat deurkom: Deur die doop verklaar ek dat ek saam Christus begrawe word en ook saam Hom opgewek word –> en wat maak dit moontlik? GELOOF
  • Die beginsel van begrafnis en opwekking — Geloof en nie net blote geboorte in n familie nie.

Rom 9:6-8 (NLV) – Ons moet in gedagte hou dat nie almal wat uit ‘n Israelitiese familie gebore wors, ware Israeliete is nie. Die blote feit dat mense blote afstammelinge van Abraham is, maak hulle nog nie ware kinders van Abraham nie. Want die skrif sê: “Isak is die seun uit wie jou nageslag sal kom”. Dit beteken dat Abraham se fisiese kinders nie noodwendig almal God se kinders is nie, maar dit is die kinders van die belofte wat Abraham se ware kinders is.

  • Geboorte alleen, maak jou nie noodwendig Abraham se kind of God se kind nie.
  • En daarom dat ons ook sien dat besnydenis van die hart die belangrike besnydenis is en dit kom deur: GELOOF
  • Kol 2:11-12 praat dus van hierdie tipe besnydenis en die dood en opstaan wat Geloof in Jesus bewerkstellig en deur die doop gesimboliseer word.

Punt 2: Die OT verbond vs. die NT verbond

Deur ‘n aanname te maak dat die doop die besnydenis vervang, verklaar jy dat in beginsel God se verbond met Abraham en sy nageslag dieselfde werk as God se verbond met gelowiges deur Sy Seun Jesus.

  • Die beginsels van die NT verbond deur Jesus bloed is nie meer dat as jy in die regte familie ingebore word, kan jy deur ‘n ritueel gesit word wat jou ‘n erfgenaam van daardie verbond maak nie.
  • Nee, deur wedergeboorte, deur geloof en vertroue in Jesus Christus word ons gered.
  • Deur geloof en deur eie keuse – iets wat ‘n baba nie kan doen nie.
  • Dis dus ‘n verkeerde aanname om aan te neem dat die 2 verbonde op dieselfde beginsels werk.
  • Ons het nie genoeg tyd om na al die skrifte te kyk wat hierdie punt staaf nie. Hulle is baie.

Paulus sê dus nie vir ons in Kol 2 dat die doop ‘n vervanging is vir die besnydenis en dat dit aan kinders toegedien moet word nie.

  • En dat kinderdoop nie die skriftuurlike doop is waarvan Jesus praat in Mat 28:19-20 “Gaan en maak dissipels van alle nasies en doop hulle…”
  • Doop is vir ‘n dissipel en is ‘n teken / uitvloeisel dat jy in jou hart besny is en assosieer met Jesus se dood en opstanding, dat dis is wat my geloof in Hom vir my ook bewerkstellig naamlik:
    • Die dood van my sondige natuur en ou ekke
    • Die opstanding en lewend maak geestelik van die nuwe ekke
    • En dat ek daardeur my toegewydheid aan die Here Jesus verklaar.

Hierdie is eie keuse – die blote geboorte in ‘n geloofsfamilie en die toedien van ‘n sakrament maak dit nie moontlik nie. Geloof is nodig (eie geloof en nie ouers se geloof nie), dis hoe die nuwe verbond dit verklaar en dus kwalifiseer ‘n baba nie.

Dis hoekom ons nou gaan doop soos ons doop. AMEN