Vader, baie dankie vir die geleentheid wat ons weer vanoggend het om saam om U Woord bymekaar te kom. Dankie dat ons, alhoewel ons nie fisies bymekaar kan kom nie nog steeds gemeenskap met mekaar kan hê in die Gees. Heilige Gees in hierdie gemeenskap saam met U, breek asb hierdie boodskap vanoggend vir ons oop en leer U vir ons wat ons nodig het daaruit. Dankie vir U liefde en genade. In die wonderlike naam van Jesus bid ek dit, amen
Inleiding
Wie is almal ‘n ou boet of ou sus? En wie is die jongste kind gewees?
Het julle (oudste kinders nou) ooit hierdie volgende woorde geuiter:
“Ja, ek sien wie is die gunsteling kind in die familie.” As die jongste kind iets gerky het of daar iets saam met hulle gedoen is.
Ons kry die nogal heelwat in ons huis. Met Diewan se matriek eksamen het ek ‘n paar keer as ons deurgery het na die eksamen sentrum vir hom middagete gekoop of Christa het hom dalk bederf met ‘n ietsie as sy van die werk afgekom het en hy was besig om te leer. En as Hanro daarvan te hore gekom het, het ons weer ‘n gunsteling kind in die huis gehad.
Ek is ook die oudste in ons huis gewees en ek is seker ek kan op my een hand tel hoeveel keer my jongste boetie pakslae gekry het, dis definitief baie, baie minder as ek en my middelste broer. So, as jy mooi daaroor dink was daar ‘n gunsteling kind in ons huis ook gewees. Die een wat met moord weggekom het.
Daar was ‘n ouer broer waarvan Jesus vertel, wat ook dalk so gevoel het. Ons lees van hom in Lukas 15.
Skrifgedeelte:
Lukas 15:11-32
11Om dié punt verder te verklaar, het Jesus vir hulle die volgende verhaal vertel: “’n Man het twee seuns gehad. 12Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Ek wil my deel van die boedel nou hê, eerder as om te wag tot Pa doodgaan.’ Die pa het toe ingestem om sy goed tussen sy twee seuns te verdeel.
13“’n Paar dae later het hierdie jonger seun al sy besittings in geld omskep, na ’n ver land gereis, en daar al sy geld verkwis met ’n uitspattige lewe. 14Teen die tyd dat sy geld opgeraak het, het ’n groot hongersnood oor die land gekom en hy het begin honger ly. 15Hy kry toe werk by ’n plaaslike boer en dié het hom die veld ingestuur om varke op te pas. 16Die seun het só honger geword dat selfs die peule wat die varke gevreet het, vir hom smaaklik gelyk het. Maar niemand het hom enigiets gegee om te eet nie.
17“Toe hy uiteindelik tot sy sinne kom, het hy vir homself gesê: ‘By die huis het selfs die gehuurde werkers meer as genoeg kos, en hier is ek besig om van honger dood te gaan! 18Ek sal teruggaan na my pa toe en vir hom sê: Pa, ek het gesondig teen die hemel én teen Pa; 19ek is nie langer werd om Pa se seun genoem te word nie. Neem my asseblief in diens as ’n gehuurde werker.’
20“Daarop het hy teruggegaan na sy pa toe. En toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien aankom. Oorweldig met liefde en deernis het hy na sy seun toe gehardloop, hom omhels en gesoen. 21Sy seun het vir hom gesê: ‘Pa, ek het gesondig teen die hemel én teen Pa; ek is nie langer werd om Pa se seun genoem te word nie.’
22“Maar sy pa sê vir die bediendes: ‘Gou, bring die mooiste mantel in die huis, en trek dit vir hom aan. Kry ’n ring vir sy vinger, en sandale vir sy voete. 23En slag die vetgemaakte kalf. Ons moet feesvier, 24want hierdie seun van my was dood en hy het nou teruggekeer na die lewe. Hy was verlore, maar nou is hy gevind.’ Toe het hulle begin feesvier.
25“Intussen het die ouer seun in die veld gewerk. Toe hy terugkom huis toe, hoor hy musiek en dansery in die huis, 26en hy vra toe een van die bediendes wat aangaan. 27‘Jou broer is terug!’ is vir hom gesê. ‘En jou pa het die vetgemaakte kalf geslag. Ons vier fees omdat hy veilig teruggekom het.’
28“Die ouer broer het hom liederlik vererg en wou nie ingaan nie. Sy pa het toe uitgekom en hom gesoebat, 29maar hy het geantwoord: ‘Ek het al die jare hard gewerk vir Pa en nooit geweier om enigiets te doen wat Pa my gesê het om te doen nie. En in al die tyd het Pa my nie eers ’n bokkie gegee om saam met my vriende fees te vier nie. 30Maar toe hierdie seun van Pa terugkom nadat hy Pa se geld op prostitute gemors het, vier Pa fees en slag die beste kalf wat ons het.’
31“Sy pa het vir hom gesê: ‘Kyk, Seun, ek en jy is nog altyd hier bymekaar en alles wat ek het, is tog joune. 32Ons moet hierdie gelukkige dag vier. Want jou broer was dood en het teruggekom na die lewe! Hy was verlore, maar nou is hy gevind!’”
Ons almal ken hierdie gelykennis en ons kan hom almal uit die kop uit vertel. Kom ons kyk ‘n bietjie dieper vanoggend as net die storie op die oppervlak deur 6 vrae te probeer antwoord.
- Waarom was die jongste seun se versoek so skokkend?
Hierdie derde verhaal begin met ‘n verskriklike versoek. Die eerste ding wat ons van hierdie jong man raaksien, is sy disrespekvolle en aandringerige houding. Hy vra nie vriendelik nie, en daar is totale gebrek aan beleefdheid en takt met sy woordkeuse. Daar is geen bespreking oor sy bedoelings nie. Hy maak ‘n eis van sy pa, omdat hy weet hoe genadig/welwillend sy pa is. In die kultuur van Jesus se tyd was dit normaal dat seuns aangeneem het dat hulle na hul pa se dood ‘n erfdeel van die familie se bates en eiendom sou ontvang. Maar in Jesus se gelykenis het die jonger seun sy deel voortydig geëis — voor die pa se dood. Toe die jonger seun sy deel van die erfdeel van sy pa vra, het hy eintlik verklaar dat sy pa net sowel dood kan wees – al waaroor hy omgee, is die geld. In die tyd van Jesus sou die pa onteer en verneder gewees het deur so ‘n versoek. Die ekwivalent van vandag is ‘n tiener wat in sy pa se gesig spoeg en skree: ‘Ek wens jy was dood!’ Om vroeg vir die erfenis te vra, het geïnsinueer dat die seun nie kon wag dat sy pa moet sterf nie. Hy wou hê dat sy pa die besittings wat hom “toekom” onmiddelik vir hom moes gee, selfs ten koste van hul verhouding.
Salomo het hiervan gepraat in Spreuke 20:20 – Wie sy pa en ma vervloek, se lewe eindig onverwags soos ’n lamp wat doodgaan in pikdonker.
Die Hebreeuse woord vir vervloek in hierdie sin beteken “om minagting te bring, te verag, te minag.” M.a.w. jy wens hulle was dood.
Maar iets nog meer ontstellend volg – Die pa het die jonger seun gegee waarvoor hy gevra het. In werklikheid het hy albei sy seuns hul erfdeel gegee (‘aan hulle’, v. 12). Albei seuns was baie bly dat die vader sy eiendom onder die twee sou verdeel. Die ouer seun het twee derdes gekry en die jongste een derde volgens die Wet van Moses (Deuteronomium 21:17).
MAAR, in daardie dae sou daar van die ouer seun verwag word om die openbare vernedering van hul pa te voorkom en ‘n brug tussen die vader en die jonger seun te bou om die verhouding te herstel. Maar in plaas daarvan om die gesin se verhouding te probeer herstel, het die ouer seun stilweg sy dubbele deel van die fortuin geneem. Hy het niks gedoen teen die optrede van sy jonger broer nie en hy het ook nie sy pa se eer beskerm nie. Die ouer seun het sy erfenis in sy sak gesteek, tuis gebly en stil gebly.
- Wat openbaar die jongste seun se versoek oor ons sonde?
Die jongste seun is openlik opstandig, hy rebelleer teen sy pa – die sonde van die jonger seun is ‘in your face’. Die versoek van die jonger seun wys op die grootsheid/ enormiteit en die gevolg van menslike sonde. “God, ons wil hê wat U vir ons kan gee, maar ons wil U nie hê nie!” Dink maar net ‘n bietjie aan die alledaagse gawes wat God ons gee, wat ons as vanselfsprekend aanvaar: sy pragtige skepping, die orde wat Hy ingestel het, die instellings van familie en regering. Maar net soos die jonger seun wou voordeel trek uit sy pa sonder om die verhouding voort te sit, is ons dikwels lief vir hierdie seëninge sonder om God lief te hê. Ons geniet die skepping, maar minag die Skepper. Die sonde van die jongste seun was selfsug, hebsug en ongeduld.
Die tweede is ‘n subtieler soort sondaar – gesien in die ouer seun. Hy verteenwoordig iemand wat skynbaar naby God is, maar eintlik ver weg is. Hy is die gemeentelid wat God se seën wil hê, maar hom minder kan steur aan die eer van God se naam of om ‘n agent van versoening of ‘n dissipelmaker te wees. Hy gee nie om vir sy pa of sy broer nie – net oor homself en wat hy uit die situasie kan kry. Sy sondes is miskien nie die uiterlike sondes nie, maar hy is bo alle twyfel skuldig aan die sondes van versuim. As die sondes van sy jonger broer “die sondes van die vlees” genoem kan word, kan syne “die sondes van die gees” genoem word.
Die ouer seun was net so verlore soos sy jonger broer – hy het dit net nie besef nie. Waar sy jonger broer ongeregtig (unrighteous) was, was hierdie seun eiegeregtig (self-righteous).
Dus,
- Sonde is ‘n aanstoot vir die karakter en eer van God.
- Sonde is selfsugtig, selfgesentreerd en selfbehaaglik.
- Waar sien ons die evangelie in die pa se reaksie wanneer sy seun terugkom?
Vroeër het hierdie seun gewens dat sy pa dood is. Hy het die familie se naam en eer in die openbaar verneder, sy kosbare erfenis vir kontant verkoop en die dorp verlaat. Die seun het met groot planne na die verre land gegaan, maar alles wat hy gehad het, is gou tot niks gereduseer. Nadat hy sy erfdeel verkwis het, het hy werk by ‘n heiden gevind. Om vir ‘n buitelander te werk, was een ding; om varke te voer en op te pas was ‘n ander. Vir ‘n Jood was die vark die veragtelikste en onreinste dier van almal. Jesus se gehoor moes so ‘n verskriklike prentjie van die sonde van hierdie jonger seun gesien het en stem ongetwyfeld saam met die seun se selfbeoordeling dat hy nie meer waardig was om ‘n seun genoem te word nie. Maar dit was te midde van armoede en skande dat die jong man tot sy sinne gekom het. Hy het onthou dat sy pa ‘n goeie man was wat na sy diensknegte omgesien het. Hy kon nie as seun na sy pa terugkeer nie, maar wat van terugkeer as dienaar?
Deur dit alles het die pa nooit opgehou om sy kind lief te hê nie. Hy het nooit opgehou om te verlang om te sien hoe hul verhouding herstel word nie. Hy het daarvan gedroom dat hulle weer sou gesels, lag en tyd saam deurbring. Keer op keer trek sy gretigheid om sy seun te sien hom na sy voortuin om in die verte te staar en begeer dat sy seun na hom toe terugkeer.
Jesus het gesê dat die dag toe die pa die seun aan die rand van die dorp sien, het hy sy klere opgetrek, in sy belt gedruk en na hom toe gehardloop. In die Midde-Oosterse kultuur word hardloop as skandelik beskou, veral ‘n man van aansien soos hy. ‘n Eervolle man wat sy klere optrek en die pad af hardloop, sou wees soos ‘n hedendaagse pa wat een oggend in sy slaapklere in hoofstraat afhardloop terwyl bure die skouspel van hul stoepe af dophou. Dit was onwaardig. Lae klas. ‘n Man van aansien het nooit in die openbaar rondgespring nie!
Die seun het begin praat, en sy beplande toespraak het nuwe betekenis gekry. Verbaas oor die onvoorwaardelike liefde van sy pa, het die seun sy voorbereide woorde begin sê, sy sonde teen God en sy pa erken en tereg toegegee dat hy onwaardig was om weer ‘n seun te wees. Dit was ‘n toespraak wat hy waarskynlik baie keer geoefen het, maar een wat hy nooit voltooi het nie.
Die seun het sy onwaardigheid verstaan om weer deel van die gesin te wees en sulke liefde te ontvang. Hy het die gewig en diepte van sy sonde herken en die skaamte en pyn wat hy sy pa laat deurmaak het. Maar nou het hy regtig berou gehad! Hy het nie meer melding gemaak van sy plan om ‘n huurling te word nie. Hy het besef dat die probleem nooit net oor geld, die erfenis en al die verkwiste besittings gegaan het nie. Die ware saak was nog altyd die gebroke verhouding, wat nou herstel is as gevolg van die pa se verregaande betoning van liefde en aanvaarding.
Waar die hele gemeenskap waarskynlik die dramatiese gebeure dopgehou het, het die pa beveel dat sy diensknegte ‘n mantel, skoene en ‘n seëlring vir hom moes bring. Dit was tekens van aanvaarding en guns, van ‘n verwelkoming in die gesin. Die pa wou hê dat sy seun en al die ander mense moes weet dat hy en sy seun versoen is.
- Wat openbaar die pa se reaksie oor die karakter van God?
Die pa se reaksie is eintlik ongelooflik.
Eerstens, aan die begin van die verhaal gee die pa vir die seun wat hy vra sonder om te skroom of om te vra waarom. In teendeel het hy albei sy seuns hul erfdeel gegee (‘aan hulle’, v. 12).
Paulus skryf in Romeine 5:8, “God laat blyk sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was.” God gee sy liefde onvoorwaardelik al weet hy hoe roekeloos ons daarmee gaan omgaan.
Tweedens, is dit interessant om daarop te let dat dit blyk dat die pa elke dag gretig uitkyk na die terugkeer van sy seun.
Kyk na die hart van God – ‘n vader wat op sy stoep staan en wag vir sy verlore kind, en as hy hom sien, hardloop hy na hom toe en neem die skande van die gemeenskap op hom. Dit is die beeld van verlossing — God die Seun hardloop na die mensdom met uitgestrekte arms, nie net om ons te omhels nie, maar ook om openbare skande te verduur en die spykers te neem wat vir ons straf voorbehou is.
Net so wil God graag hê dat ons berou moet hê oor ons sondes en na Hom moet terugkeer. God het die mensdom so lief dat Hy sy Seun aarde toe gestuur het om vir ons sondes te sterf (Johannes 3:16).
Verder is God lankmoedig teenoor ons, nie bereid dat iemand verlore moet gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom’ (2 Petrus 3: 9). Hy “wil hê dat alle mense gered moet word en tot kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2: 4).
In hierdie gedeelte sien ons die mooiheid van die liefde van ‘n vader, die krag van die vader se genade en die vreugde van die terugkeer van ‘n seun.
- Die hemel vier fees wanneer selfs een sondaar berou het oor sy of haar sonde (Luk. 15: 7,10).
Lukas 15: 7, 10
7Net so sal die hemel blyer wees oor een sondaar wat tot inkeer kom as oor 99 ander wat regverdig is en nie nodig het om tot inkeer te kom nie!”
10Net so is daar blydskap onder God se engele as net een sondaar tot inkeer kom.”
- God se geskenk van verlossing neem ‘n vyand van God en maak hom/haar ‘n seun of dogter van God.
- God hou nie boek van die ongeregtighede van sy kinders nie, maar verwelkom hulle tuis wanneer hulle tot bekering kom en na Hom terugkeer.
Dit is hoe God elkeen behandel wat huis toe kom. Wanneer verlorenes gevind word, juig God en vier Hy fees. (God and heaven rejoices). Maar dit beteken nie dat almal in Sy vreugde deel nie.
God is liefdevol, genadig en geduldig.
- Waarom was die ouer seun so kwaad?
Met die vader se omhelsing en aanvaarding van sy seun kon Jesus se derde en laaste verhaal net daar geëindig het om inlyn te wees met die twee voorafgaande verhale. Al drie die verhale sou met vreugdevolle feesvieringe afgesluit wees. Maar Jesus het nog ‘n laaste punt in die verhaal van hierdie drietal wat Hy moes maak. Die ouer broer wat in die skaduwees skuil.
Die ouer seun is sedert die begin van die gelykenis nie genoem nie. Die toehoorders het daardie dag miskien gedink Jesus bevestig hom as die positiewe voorbeeld — die getroue seun. Die seun wat by sy pa gebly het. Maar dit was nie Jesus se bedoeling nie, daarop het Hy vroeër gesinspeel toe die ouer seun ook sy deel van die erfporsie geneem het.
Nou, wanneer die ouer seun terugkom in die verhaal, is hy in die veld (so, hy is ook verwyderd van sy pa) en vind ons dat hy nie saam met sy pa wil feesvier nie, maar dat hy hom kritiseer. Toe die vader uitkom om by sy ouer seun te pleit om in die huis te kom en sy broer te verwelkom, bars al die opgeboude wrewel/afkeur in die ouer broer uit. In Jesus se kultuur sou daar van enige ouer seun verwag word om so vinnig as moontlik by die fees aan te sluit. In plaas daarvan het die ouer seun buite gebly en gekies om te murmureer oor die oënskynlike onregverdigheid van sy pa se optrede. Sy pa het nou net die nikswerd wegloper teruggevat en hom weer ‘n ere plek in die familie gegee. Boonop het sy pa hom ook nog belaai met geskenke:
‘n Mantel – Vergifnis, hy verdien dit nie, ‘n ring – herstelde identiteit, hoe durf hy, hy’t weggeloop, sandale – hernieude doel en lewensbetekenis, m.a.w. hoop, hy het dan die verhouding weggegooi.
Die partytjie was sy bywoning nie waardig nie. Die seun het geweet dat hy sy pa verneder, maar hy het nie omgegee nie. Hy het net so opstandig geword soos sy jonger broer aan die begin van die verhaal.
- Wat openbaar die interaksie van die ouer seun met sy pa oor hoe hy homself sien?
Hy het al sy energie en tyd daaraan gegee om jare lank soos ‘n slaaf by sy pa te werk; hy het nog altyd gedoen wat sy pa wou; hy het nog nooit eers ‘n jong bokkie van sy pa gekry om saam met sy vriende fees te vier nie. Maar nou, voeg hy minagtend by, ‘hierdie seun van jou’ kom terug nadat hy ‘al jou eiendom’ met los vroue vermors het – en jy maak die vetgemaakte kalf vir hom dood!
Let op hoe die ouer seun weier om die jonger seun sy broer te noem. Hy het gesê: ‘Maar toe hierdie seun van jou kom …’ As die jonger seun die berou/bekering moes verstaan het as die aanvaarding dat hy waarlik sy pa se seun was, dan moes die ouer seun bekering verstaan dat hy sy jonger broer as ‘n ware broer aanvaar het!
MAAR, hy het dan nooit iets verkeerd gedoen nie, hy het gebly en hy het gewerk.
- Die ouer broer sien homself as ‘n slaaf van die vader, wat werk om sy goeie guns te verdien.
- Die ouer seun sien homself as regverdig en waardig omdat hy beter is as sy broer.
- Hy sien homself as ‘n pligsgetroue en gehoorsame seun.
Afsluiting:
- Sonde verwyder ons van die Vader se teenwoordigheid – jongste seun in ‘n veraf land, oudste seun in die veld.
- Opregte berou en bekering laat ons toe om weer God om vergifnis te vra en Hy sal ons aanvaar.
- God aanvaar ons net soos ons na Hom toe kom en Hy maak ons weer regverdig in Sy oë, Hy gee ons ‘n nuwe identiteit en Hy gee weer vir ons hoop om in hierdie nuwe geregtigheid en identiteit te wandel.
- God nooi ons om saam fees te vier oor elke verlore sondaar wat terugkeer na Hom toe. Hy wil eintlik hê dat ons verlorenes moet help om terug te keer.
- God het nie gunstelinge nie, Hy wil hê almal moet na Hom tergugkom en Hy gee aan almal wat dit doen dieselfde vergifnis, identiteit en hoop – dieselfde mantel, dieselfde seëlring en dieselfde sandale.